Daa’ Gaat Die Bruid Bloemfontein toe

0
35
Ouma (Marga van Rooy) en Bobby (Phillru van Achterbergh)
Ouma (Marga van Rooy) en Bobby (Phillru van Achterbergh)

“Worsie se Ma” en “Prof” gaan Bloemfontein toe in skreeusnaakse Daa’ Gaat Die Bruid.

Lefra Produksies is reeds bekend vir hulle lekkerlagklugte wat gehore landwyd sedert 2012 vermaak, en vanjaar is klugkoning Frans Swart se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney en John Chapman se weghol-treffer, Daa’ Gaat die Bruid! aan die beurt en besoek Bloemfontein se Sand du Plessis Teater op 3, 4 en 5 November 2016.

Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus)
Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus)

Die oorpsronklike There Goes The Bride is een van Cooney en Chapman se mees suksesvolle Westend-klugte tot op hede, en uittreksels vanuit die Londonse resensies beskryf die klug dalk die beste: “… die klug word lawwer en snaakser soos dit aangaan… dit het tempo, presisie en vernuf”, was die uitspraak in die London Daily Mirror. Volgens die BBC is dit “briljant geskryf”. Daa’ Gaat die Bruid! Spog met top akteurs soos Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Marissa Claasen, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh. Frans Swart hanteer weer die regie. Swart sê hy is baie opgewonde oor Daa’ Gaat die Bruid! “Die lekkerte is dat hierdie klug nog nooit in Suid-Afrika opgevoer is nie, en dus ken niemand die storie of ontknoping nie”. Paul Boekkooi skryf: “Swart se teks tintel in Afrikaans!”

Malan (Cobus Venter) en Charles (Gert van Tonder)
Malan (Cobus Venter) en Charles (Gert van Tonder)
- Advertisement -

In Daa’ Gaat die Bruid! is dit die oggend van Judy (Marissa Claasen) se troue. Alles is in rep en roer om alles in gereedheid te bring vir die troue later die dag. En dan slaan die klug toe! Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus) gereed is om kerk toe te vertrek, kry haar pa Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ‘n advertensiemaatskappy, ‘n hou op die kop en dan begin die poppe dans – letterlik! Polly (Ana van Achterbergh), ‘n pragtige “cut-out” meisie van een van sy advertensieveldtogte, kry lewe. Voeg daarby ‘n kwaai ouma (Marga van Rooy), ‘n moeilike oupa (Lieb Bester), ‘n verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder), ‘n flambojante assistent (Phillru van Achterbergh) en ‘n deur of drie, en jy beskik oor al die lekkerlag elemente van nog ‘n histeriese Lefra-klug!

“Ons almal weet dat die oggend voor ‘n troue is redelik chaos. Veral as Oupa en Ouma nog van Bela Bela (Oupa se weergawe: Beda Beda) af kom, die blomme is nog nie daar nie, spyseniers is die hele huis vol, die bruid se rok is nie reg nie, en Pa is nog besig met ‘n belangrike kontrak! Om nie eers van die Kaapse skoonmense te praat nie. Hierdie is al die elemente waarmee ons almal ons self kan vereenselwig. Ideale elemente vir die klug! Kyk man, ons Suid-Afrikaners KAN troue hou!” sê Swart, regisseur en ook vertaler en verwerker.

Besprekings kan gedoen word by PACOFS 051 447 7771/2 of epos: admin@lefra.com. Lefra Produksies kan ook geskakel word by 011 815 3000. Lefra het ook ‘n maklike SMS besprekingslyn – jy SMS net die volgende na 33000: Lefra Bruid Bespreking en dan JOU NAAM EN VAN. Lees meer by www.diebruid.co.za.

 

Leave a Reply