Ellen Pakkies se storie open Silwerskermfees!

0
18

Ellen Pakkies se storie open Silwerskermfees!Die fliek oor Ellen Pakkies se lewe, ELLEN, DIE ELLEN PAKKIES STORIE, het reeds oorsee opslae gemaak en dit is pas aangekondig dat hierdie rolprent, wat delf in die innerlike psige van ‘n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste plaaslike gemeenskappe, die openingsfilm by die kyKNET Silwerskermfees sal wees op 22 Augustus 2018, by The Bay Hotel in Kampsbaai.

https://www.facebook.com/silwerskermfees/

- Advertisement -

“Ons is werklik dankbaar dat kykNET Silwerskermfees Ellen se storie gekies het om die fees te open. Hierie fliek lig die pleidooi van soveel mense wat sukkel uit”, sê uitvoerende vervaardiger, Paulo Areal.

Ellen Pakkies se opspraakwekkende verhaal het in 2007 die aandag van mense regoor die wêreld getrek, nadat sy aangekla is vir die moord op haar dwelmverslaafde seun, Abie. Die hofsaak, wat daarna gevolg het, het belangstellendes op die punte van hulle stoele gehou en die rolprentvertelling daarvan beloof om dieselfde met kykers te doen en meer!


“Wanneer jy die rolprent kyk, besef jy dat Ellen nie ’n bose of kwaadwillige mens is nie. Jy begin verstaan hoekom sy gedoen het wat sy het. Sy is ’n ma, wat lief was vir haar seun, maar hom ongelukkig nie kon help nie. Al die akteurs vertolk hulle rolle puik en jy sal ’n hele stroom van emosies op een slag ervaar. ’n Fenominale stuk kuns, wat jou lewe sal verander,” skryf Film & Television Business, wat vir die prent vyf sterre gegee het.

Bekroonde regisseur, Daryne Joshua, wat bekend is vir sy suksesvolle debuutfilm, Noem My Skollie, was saam met vervaardigers, Schalk-Willem Burger en Paulo Areal, aan die stuur van hierdie indrukwekkende produksie. Die draaiboek is deur Amy Jephta geskep met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette. Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep.

Buiten vir die indrukwekkende span agter die prent, spog dit ook met ’n sterbelaaide rolverdeling en lof stroom in vir dié groep akteurs wat hulle so skitterend van hulle taak kwyt.

Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem my Skollie (wat in 2016 Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars was), Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies Gevind, As Ek Huistoe Kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en die gewilde kykNET-sepie, Suidooster is briljant in die hoofrol van Ellen Pakkies en het baie navorsing en moeite gedoen om haar vertolking so eg en eerlik as moontlik te benader.

Jarrid Geduld speel die rol van Ellen se seun, Abie. “Dit is altyd ’n groot uitdaging om iemand se ware verhaal te vertel, veral een wat steeds relevant is. Ek het baie gewig verloor en probeer om myself in die karakter in te leef ter voorbereiding van die rol en hoop dat my vertolking vir kykers sal insae gee oor wat binne die kop van ’n verslaafde aangaan”. Jarrid het bekendheid verwerf vir sy rolle in plaaslike en internasionale produksies soos Black Sails, Zulu, 10 000BC en A Lucky Man.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié treffende film, is Elton Landrew (District Six, Kat and the Kings, Sara se Geheim), Kay Smith (7de Laan), Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo, Black Sails).

Hierdie aangrypende ware verhaal is vervaardig deur TMPBC (The Moving Billboard Picture Company) in samewerking met M-Net, kykNET Films en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word op 7 September 2018, landswyd, deur Filmfinity (Pty) Ltd uitgereik.

Leave a Reply