Hartklop

0
31
Hartklop by die Market Theatre
Hartklop by die Market Theatre

Gebaseer op ‘n ware verhaal soos vertel aan Jan Groenewald deur die hartchirurg Susan Vosloo.

‘n Nuwe hart beteken ‘n hergeboorte. Daar kan geen groter opwinding bestaan nie as die oomblik wanneer die pasiënt die lewe weer deur sy are voel bruis dikwels ná jare van stadige aftakeling en oneindige uitputting en vermoeienis.

Dis ‘n ervaring wat vir min mense beskore is. Daar is min hartskenkers. ‘n Onvoorspelbare dood stel familielede op die oomblik van afsterwe aan soveel trauma bloot dat hule nie eens daaraan dink dat die organe van hulle geliefde vir iemand anders ‘n nuwe lewe kan gee nie.

- Advertisement -

Daar is geen groter spanning as om te wag op ‘n nuwe hart vir ‘n hartlyer nie – ‘n nuwe hart wat die verskil kan maak tussen die lewe … en die dood.

Herman le Roux is die pasiënt van die Suid-Afrikaanse hartchirurg dr. Susan Vosloo. Sy enigste kans op ‘n tweede lewe is ‘n nuwe hart. Saam wag hulle. Gaan hy leef – of sterf? Sal hy betyds ‘n hart kry?

In Hartklop gebruik die skrywer Jan Groenewald die situasie waarin hartlyers hulle bevind om die verhaal te vertel van Jessica, Herman le Roux se dogter, en haar minnaar Daniel Cloete, gespeel deur Christo Davids.

Saam werk hulle aan ‘n artikel oor hartoorplantings en Dr. Chris Barnard, wat die eerste hart in Louis Washkansky oorgeplant het. Wanneer die verhouding tussen die twee verdiep, skep dit ‘n situasie wat hulle al hoe moeiliker vind om te hanteer.

Christo Davids, regisseur van 7de Laan, is ewe bekend as akteur, as Errol in 7de Laan, en in baie ander rolle. Hy is ‘n gesoute speler wat oor baie jare sy kuns as akteur beoefen. Hy begin reeds op die ouderdom van 11 in die TV-reeks Onder engele en word genomineer in die kategorie Beste akteur vir ‘n Artes in 1996. Hy het sedertdien baie toekennings vir sy werk verower. Hy is onlangs gesien in Vier briewe vir Jan Ellis deur Steve Hofmeyr en Athol Fugard se Master Harold and the Boys.

Sy werk as teaterregisseur sluit Sonneblom, Platform 9 en Hold On and Let Go in, en as dramaturg het hy reeds verskeie pryse verower.

Tessa Denton is ‘n veelsydige kunstenaar. Sy tree op in verhoogstukke soos The Full Monty, Rocking All Over The World, Girl Talk 007, Debbie Does Dallas, Grease, The Rocky Horror Picture Show, Joseph and His Amazing Technicolor Dreamcoat en Let’s Rock.

As choreograaf werk sy aan Tiffendale, Royal Hotel, Rocking All Over The World, Grease en The Rocky Horror Picture Show.

In TV is sy ‘n bekende in reekse soos Binnelanders, 7de Laan, Generation, Fluiters, Scandal! en Song vir Katryn, om net ‘n paar te noem.

Hartklop in die Barney Simon-teater, Markteaterkompleks, 13 – 23 Oktober. Besprekings: Computicket.

Leave a Reply