Lefra bring 3 produksies na Vrystaatse Kunstefees

0
46

Lefra Produksies, die vooruitstrewende teater produksiehuis, gaan drie produksies aanbied by die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein van 9-14 Julie.

Johan Joubert en Cobus Venter in My Vrou se Man se Mannetjie
Johan Joubert en Cobus Venter in My Vrou se Man se Mannetjie

Lefra Produksies het deur die jare bekendheid verwerf vir die skreeusnaakse klugte wat hulle aanbied. Vanjaar gaan teatergangers lekker kan lag en sal hulle moet uitwerk wie is MY VROU SE MAN SE MANNETJIE. Die Boerneef produksie, FLENNIE DIE SNARE, met onder andere Chris Chameleon, Anna Davel en andere neem die kyker op ‘n nostalgiese reis na Boplaas en die Kaap met lekker musiek, skreeusnaakse sketse, poësie, prosa en drama. FLENNIE DIE SNARE was ‘n opdragwerk van die Innibos Nasionale Kunstefees en het vol sale in Nelspruit getrek. Wees gewaarsku – dis beslis nie ‘n hogere droeë letterkundige affere nie. Lefra is vanjaar ook betrokke by ‘n ontwikkelingsprojek, GEBOORTE, wat grens aan die teater van die absurde. GEBOORTE word op die Vrynge aangbied. Besprekings kan gedoen word by Computicket.

- Advertisement -

Die produksies speel as volg:

  • MY VROU SE MAN SE MANNETJIE – Sand du Plessis Teater: 10 Jul (19:30); 11 Jul (19:30); 12 Jul (10:00) en 13 Jul (10:00)
  • FLENNIE DIE SNARE – Sand du Plessis Teater: 10 Jul (11:30); 11 Jul (11:00) en 12 Jul (20:00)
  • GEBOORTE – Madelief – PACOFS Gazelle: 9 Jul (10:30); 10 Jul (13:00) en 12 Jul (20:00)

MY VROU SE MAN SE MANNETJIE:

Paul Luckhoff en Tessa Denton in My Vrou se Man se Mannetjie
Paul Luckhoff en Tessa Denton in My Vrou se Man se Mannetjie

Isak (Cobus Venter) en Linda (Edrien Erasmus) se huwelik is op ‘n 17 jaar-jeuk. Linda voel dat sy meer uit die lewe wil hê … veral meer opwinding. Isak aan die anderkant is heel gelukkig met sy saai lewe – hy het ‘n suksesvolle kunsblommebesigheid en sy hele bestaan word deur die besigheid oorgeneem. Linda voel egter dis tyd om te skei en arme Isak is in die donkterte dieptes. Voeg egter daarby ‘n seniele oupa Arnoldus (meesterlik vertolk deur Paul Lückhoff), inmengerige bure, Herman (Johan Joubert) en Bettie (Tessa Denton) en ‘n sestienjarige, jeukerige seun, Chris (Rowlen von Gericke), en jy het ‘n totale resep vir chaotiese lekkerlag!

Frans Swart, regisseur sê dat dit elke jaar nogal ‘n uitdaging is om op die vorige jaar se klug te verbeter. “Ek dink egter vanjaar se My Vrou se Man se Mannetjie is skreeusnaaks en ook splinternuut. Dit het ‘n lekker storielyn en ek glo dat heelwat paartjies hulself met die situasies sal kan vereenselwig. So kan jy ook in die proses vir jouself lag. Ek sê dit elke jaar, maar sê dit maar weer – elke Lefra-klug is splinternuut en nie ‘n opvolg op enige van die vorige klugte nie. Elke klug is totaal uniek en nuut.”


FLENNIE DIE SNARE:

Chris Chameleon as Boerneef in Flennie die Snare
Chris Chameleon as Boerneef in Flennie die Snare

Bantom hom so
En flennie die snare
Ek is verlief op die kind
Die son slaan vuur uit die sweetvoshare
Ek is verlief op die kind
– Boerneef
– “Voshaarnooi” getoonset deur Louis van Rensburg

Hierdie (nou reeds welbekende) woorde verskyn in 1959 in een van Boerneef se gedigte in sy tweede bundel Ghaap en kambro. In 1986 skep Louis van Rensburg die ikoniese lied Voshaarnooi deur drie van Boerneef se gedigte te kombineer en te toonset. Vosjaarnooi word gebruik as ‘n temalied vir die televisiereeks Ballade vir ‘n Enkeling. Boerneef was skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, en laat ‘n skatkis van prosa en poësie agter na sy afsterwe op 2 Julie 1967. En nou, 50 jaar na sy dood, word Boerneef vereer in woord en klank in die produksie Flennie die Snare by die Vrystaat Kunstefees, met ‘n sterbelaaaide rolverdeling en kreatiewe span – Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein, Daniella Deysel, Mauritz Lotz, Riaan van Rensburg. Die musikale regisseur is Jaconell Mouton en Frans Swart is regisseur en skrywer. FLENNIE DIE SNARE word aangebied in samewerking met die Innibos Nasionale Kunstefees.

Swart is baie opgewonde oor die rolverdeling. “Alles het net in plek geval. Ek wou so graag vir Chris Chameleon gehad het om in Flennie op te tree. Nie net as sanger nie, maar ook as akteur. Chris het onmiddellik ja gesê en hy bring ‘n ongelooflike kreatiwiteit na die produksie toe. Anna Davel het ‘n ongelooflike stemkwaliteit, maar sy is ook ‘n besonders talentvolle aktrise. Anna bring daardie nostalgiese musikaliteit, sy sing en speel toneel. Johny Klein is akteur van formaat en ons het hom in die diepkant ingegooi, want in hierdie produksie gaan jy ook vir Johny hoor sing. Danielle Deysel is ook sangeres en aktrise en Daniella bring veral Boerneef se speelsheid na die produksie.”

Wat kan gehore te wagte wees? Frans antwoord entoesiasties! “Pret en nogmaals pret. Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlag komedie en baie hartseer drama en nostalgie. Hope daarvan. Jy weet Boerneef was ‘n volksdigter en ‘n volksskrywer. Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf. Hy het ook geskryf soos die mense die Taal gepraat het daar in die Koue Bokkeveld. Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het. Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was. Ek spot altyd en sê hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde! Eerlik, maar lekker kommersieel! Mense moenie ‘n swaar letterkundige affêre verwag nie – Flennie die Snare is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd! En ek kan ook ‘n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel. So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie.”


GEBOORTE:

Wentzel Lombard in Geboorte
Wentzel Lombard in Geboorte

Dis ñ groot dag. Die baba kom vandag. Alicia se baba. Haar vriendin, Hermien, het geen benul van die makabare toneel wat op haar wag in Alicia se huis nie. Wat eers gelyk het na ‘n onskuldige – tog vreemde – poging tot vriendskap verander stadig maar seker in iets veel erger as wat sy haar ooit sou kon voorstel. Alicia se begeerte en onstabiliteit lei na ‘n katastrofe waarmee al die karakters sal moet saamleef – of sterf. Geboorte ondersoek die nagevolge van ‘n obsessie wat so sterk is dat dit ‘n psige vergiftig. Wat andersinds as boos en wreed sou beskou word is vir Alicia nou bloot deel van wat sy moet doen om te kry wat sy wil hê. Wentzel Lombard het GEBOORTE geskryf met Anmari van Achterbergh as regisseur. Die spelers is Marnel van den Berg, Wentzel Lombard, Lizahn Bester en Zunita Kruger.

Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies sê dat Lefra besluit het om die produksie, Geboorte te ondersteun as ‘n Lefra-ontwikkelingsprojek. “Toe ek die eerste keer Geboorte gesien het, het ek besef hier is ‘n produksie wat nog baie ver kan gaan. Die teks deur Wentzel Lombard is vars en nuut en slaan jou eintlik tussen die oë. Sonder om te veel weg te gee, teatergangers is totaal uit die veld geslaan met die einde van die verhaal wat totaal sin maak as mens die verloop van die storie volg. Anmari van Achterbergh het haar baie goed van haar taak gekwyt as regisseur en die akteurs vertolk hulle rolle met soveel oortuiging,” sê Swart.



Lefra Produksies se drie top produksies word aangebied met die vriendelike samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, Hollywood Costumes, Innibos Nasionale Kunstefees.

Leave a Reply