Loki Rothman sing tema-lied vir Jou Romeo fliek

0
34
Loki Rothman
Loki Rothman

Loki is ook verantwoordelik vir die klankbaan van die nuutste romantiese tienerkomedie, Jou Romeo, en die treffer, Ons op ons eie!Die veelsydige kitaarmeester, LOKI ROTHMAN, se talent ken geen perke nie. Hy het reeds die meeste genres op die kitaar bemeester, het ’n meesleurende stem, verf asemrowende landskappe met sy oorspronklike lirieke en is ook ’n uiters suksesvolle musiekvervaardiger.

Loki is ook verantwoordelik vir die klankbaan van die nuutste romantiese tienerkomedie, JOU ROMEO, en die treffer, Ons op ons eie, wat gedurende die week van 17 Oktober 2016 aan radiostasies regoor die land vrygestel word. Hierdie liedjie is ook beskikbaar op Afrikaans is Groot Vol. 9 wat tans op die rak is!

Die lied se lirieke, asook die kreatiewe vermenging van elektroniese dansmusiek-, akoestiese en pop-elemente beskryf ’n toneel in die fliek waar ’n liefdesteleurstelling plaasvind. Die vervaardiger van JOU ROMEO, Dries Scholtz vertel: “Ek volg al lank vir Loki op YouTube, maar ek kon hom net nog nooit ontmoet nie, al was ons in dieselfde hoërskool! Uit die bloute kontak Loki my toe op Facebook en noem dat hy baie graag betrokke wil raak by films. Dit was vir ons ’n maklike besluit om daar en dan JOU ROMEO saam met hom aan te pak! Dit is die eerste keer wat ons in een van ons films al ons klankbaanmusiek spesiaal vir die film laat vervaardig het. Loki is ’n ongelooflike talent en ons sien uit na die volgende film saam met hom!”

- Advertisement -

Loki is op sy beurt net so opgewonde: “Dries het my gevra om oorspronklike musiek te vervaardig vir JOU ROMEO. Dit was vir my ’n uitdaging om ’n reeks liedjies te skryf deur slegs die visuele materiaal van die fliek as verwysing te gebruik om die inhoud van die liedjies te skryf. Jy kan dus nie net skryf oor enigiets nie, die lirieke en wysie moet aansluit by wat op die skerm gebeur. Die liedjies is so opgedeel dat die helfte in Engels is en die ander helfte in Afrikaans en verskeie sangers is gebruik vir elkeen. Die laaste liedjie wat ek gekryf het, Ons op ons eie, was my gunsteling en ek wou dit graag self sing. Hierdie liedjie is toe ook my eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit wat bekendgestel is. Dit is iets heeltemal nuut vir my, as kunstenaar, en vir mense my wat my vorige musiek ken – alhoewel die produksie en klankgehalte resoneer met dit van my eerste album, The Way Back. Hierdie is op ’n manier soos die Afrikaanse weergawe daarvan.” Ons op ons eie is Loki se eerste oorspronklike Afrikaanse liedjie.

JOU ROMEO is ’n fliek wat deur die hele familie geniet sal word. Marko Marais (Ruan Wessels) is die gewildste ou in Hoërskool Monument, nie net omdat hy ’n jock is nie, maar ook omdat hy die krieketheld en ’n hartebreker is. Hy en die drama-geek, Yvette (Elani Dekker), verskil soos dag en nag, maar ware liefde stuur op ’n botsing af in hierdie verhaal oor romanse, Shakespeare, krieket, vriendskap en onvoorwaardelike aanvaarding. Wanneer Romeo en Juliet, die opvoering wat Yvette en haar beste vriend Tyler (Christopher van der Westhuizen) al vanaf graad agt beplan, bedreig word deur die sportmal-hoof, Meneer Kirby Potgieter (Pierre Breytenbach) wat die kuns- en kultuurbegroting sny, besluit Yvette om Marko se hulp in te roep. Maar sy het nie Marko se beste belange op die hart nie… Yvette kom egter tot ander insigte wanneer sy besef dat Marko meer as net nog ’n jock, met ’n mooi glimlag en massas aanhangers is, en skielik sien Marko hierdie mooi rooikop ook in ’n ander lig… Beteken dit dat Marko eintlik Yvette se ware Romeo is en Yvette sy Juliet?

Diaan Lawrence, Dirk Stoltz, Row-Lean, Sarahann Doherty en Carmin Coetzer vertolk ook rolle in JOU ROMEO. Die fliek verken interessante temas oor “om te behoort”, ander na waarde te skat en om ongewone kwaliteite in ander te ontdek. Voeg ’n tikkie romanse hierby en sprinkel ’n bietjie liefde oor en hierdie is die perfekte somerfilm om saam met jou vriende en familie te geniet.

JOU ROMEO is deur The film Factory vervaardig, draai vanaf 23 Desember 2016 in fliekteaters regoor die land en word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Kyk die lokprent hier: https://youtu.be/q8zXTq6h4OE

Sosialemediaskakels vir JOU ROMEO:

Sosialemediaskakels vir LOKI ROTHMAN

 

Leave a Reply