Lusmakerlokprent vir nuwe Schuster-fliek is hier!

0
82
Themba Ntuli and Leon Schuster in Frank & Fearless.
Themba Ntuli en Leon Schuster in Frank & Fearless.

Die eerste voorsmakie van die geliefde grapjas, Leon Schuster, se nuutste familiekomedie, FRANK & FEARLESS, is pas op sosialemedia vrygestel en dit is baie duidelik iets waarna kykers uitsien, want die lusmakerlokprent versprei reeds soos ’n veldbrand!

In ware Schuster-tradisie, vertel FRANK & FEARLESS die komiese verhaal van vier oulike karakters se heldhaftige streke in die bosveld, gekombineer met ’n baie relevante en kontroversiële storielyn met ’n diep emosionele impak, wat dit kop-en-skouers laat uitstaan bo enige van Leon se vorige werk, soos Mr Bones en Mad Buddies, wat van die beste presteerders ooit by die plaaslike loket is en oorsee ook baie sukses bereik het.

- Advertisement -

Hierdie rolprent, uit die pen van Gray Hofmeyr, Leon Schuster en Geoff Newton, is geskep deur ’n dinamiese span rolprentkundiges, met bekroonde filmmaker Gray Hofmeyr as regisseur en André Scholtz en Menzi Thabede as vervaardigers. Hofmeyr werk al vir jare in die vermaakbedryf en is verantwoordelik vir verskeie bekroonde lokettreffers, soos die eerste Jock of the Bushveld, Leon Schuster se Sweet and Short, There’s a Zulu On My Stoep en meer.

Die fliek, wat in Afrika afspeel, neem jou op ’n opwindende avontuur wanneer ’n hartlike ou man, Sonny Frank (Leon Schuster), en ’n tienjarige plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), besluit om Suidoos-Asië se ambassadeur te ontvoer in ’n poging om die uitmoor van renosters stop te sit. Saam met hulle op hierdie missie, is twee viervoet-vriende, wat bydra tot die pret en hart van die verhaal. Reini is ’n babarenoster wie se ma deur stropers doodgemaak is en Dog is Fearless se lojale swart brak. Wanneer dinge egter erg skeefloop, word hulle gedwing om ’n peleton genadelose stropers aan te vat, waaronder die skrikwekkende eks-wildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ’n geskiedenis het. Die emsionele hart spruit, natuurlik, voort uit elke karakter se persoonlike reis.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Buiten vir uitstaande kinematografie, spog die rolprent ook met indrukwekkende 3D-animasiewerk (Luma Creative Studio), animasiemodellering (DreamSmith) en spesiale effekte (Refinery), asook knap toneelspel deur die sterbelaaide rolverdeling. Leon Schuster is puik in die rol van die onseker spoorwegsjef en versamelaar van inheemse speserye, terwyl nuweling, Themba Ntuli (Meerkat Maantuig), die perfekte keuse was om die komplekse Afrika-kind, wat bang is vir sy eie skaduwee, te vertolk. Kenneth Nkosi (Tsotsi), Khanyi Mbau (Happiness is a Four Letter Word), Jennifer Steyn (Goodbye Bafana, Madam and Eve) en David Dennis (Soul City) is ook in die fliek te sien.

Hou vas aan jou sitplek want, want FRANK & FEARLESS beloof om kykers te laat skaterlag, maar ook diep te raak met die ernstige onderliggende boodskap en persoonlike oorwinnings, wat sal aanklank vind by oud en jonk en hulle vasgenael sal hou van begin tot einde.

Die film word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal op 23 November 2018 landswyd uitgereik word. Dit is vervaardig deur Thabede Menzi Films en Dapple Films, in samewerking met M-Net, Film Chrome, Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC).

Leave a Reply