‘n Geseende 46 – Tygerberg Kinderkoor Galakonsert

0
51

Die eerste van twee afskeidskonserte vir Hennie en Theresa Loock

Tygerberg Children's Choir2018 is ‘n historiese jaar in Tygerberg Kinderkoor se bestaan. Die laaste konserte onder die leierskap van een van die mees befaamde koorleiers in die geskiedenis van koorsang, nie alleen plaaslik nie maar ook internasionaal, vind vanjaar plaas. Hendrik D Loock lê einde Maart 2019 die tuig neer, na 46 glorieryke jare as koorleier.

- Advertisement -

2018 is ‘n jaar gevul met groot gebeurtenisse, nie slegs weens die opwinding van die Wêreldkorespele in Tshwane nie, maar ook weens die omwenteling veroorsaak deur die skielike siekte van Theresa Loock, die koor se geliefde begeleier, verwerker en Hennie Loock se jarelange onmisbare steunpilaar. Theresa is op verpligte siekteverlof sedert die begin van die jaar en die koor is bevoorreg om die dienste te bekom van die bekwame pianis Theo Alkema as begeleier vir die res van 2018.

Vanjaar se koorprogram lyk anders as gewoonlik. Die programformaat weerspieël die koor se Wêreldkorespeleprogram, kategorie vir kategorie. Die koor neem vir die eerste keer deel in ‘n tamaai vier kategorieë, nl. Kinderkore, Begeleide Volksliedere, Musica Sacra met begeleiding en Popkore. Diegene wat nie die voorreg gaan hê om om die koor in Tshwane te beleef nie, sal dus die geleentheid kry by die koor se twee groot konserte vanjaar. ‘n Interessante toevoeging tot die program is ‘n poporkes bestaande uit kitaar, baskitaar en tromme, wat gebruik sal word in die afdeling vir popkore by die korespele.

Koorlidmaatskap is slegs tot die einde van ‘n kind se Gr 8-jaar en daarom is die koor baie bevoorreg en dankbaar dat ‘n kerngroep Gr 9’s ingewillig het om aan te bly tot aan die einde van die korespele, ten einde die koor ‘n soliede musikale basis te gee. So ‘n basis is ‘n absolute voorvereiste om optimaal te funksioneer by ‘n monumentale gebeurtenis soos die korespele. Hierdie Gr 9’s speel ‘n kernrol wat danse, solo- en instrumentale werk betref.

Die Galakonsert op 10 Junie, asook die Prestigekonsert later vanjaar in die Endlersaal, word opgedra aan Hennie Loock, een van die voorste leiers van kinderkore in die geskiedenis van koorsang, en sy vrou Theresa. Hennie se uitsonderlike talent om die koor te lei tot uitmuntende legatosang, volwasse klankplalet, kragtige musikaliteit en dinamiese interpretasie van baie moeilike materiaal, is ‘n groot gawe wat nooit vergeet sal word nie.

Leave a Reply