‘n Móét kyk – Kaleidoskoop se nuwe video – Fakkels

0
125

Dit neem die kyker op ’n epiese Middeleeuse avontuur wat die kyker deelmaak van hierdie besonderse boodskap van lig en hoop in ’n wêreld wat donker is

Kaleidoskoop
Kaleidoskoop

Die musiekvideo van die Huisgenoot Tempo- en Ghoema-bekroonde duo, Kaleidoskoop, se nuutste enkelsnit, FAKKELS, is pas uitgereik en het reeds soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit neem die kyker op ’n epiese Middeleeuse avontuur wat, soos ’n boeiende kortfilm, die kyker intrek en deelmaak van hierdie besonderse boodskap van lig en hoop in ’n wêreld wat soms baie donker kan wees.

- Advertisement -

“Die inhoud van die video hou baie verband met die liedjie se lirieke wat oor vrese gaan; veral die letterlike en figuurlike vrees vir die donker. Ons het probeer om uit te beeld dat vrees ’n realiteit is en dat dit die vermoë het om mense te verlam en te pootjie as potensiële ligdraers, maar dat dit ook oorkombaar is met die Lig wat ons kies om aan vas te hou. Die lig van die lamp en fakkel simboliseer Jesus se lig in ons as mense. Ons kan die Lig vir mekaar gee, ons kan vrees daarmee verdryf, maar moet altyd gereed wees,” verklap Anique Jordaan, die vroulike lid van die duo, oor die idee agter hierdie besonderse projek wat saam met Ubuntu Visual se Paul Hugo en regisseur Jannes de Villiers (met die hulp van sy assistent, Carien de Villiers) aangepak is.

ARVE Error: The [[arve]] shortcode needs one of this attributes av1mp4, mp4, m4v, webm, ogv, url

Die video, wat in Swellendam verfilm is, speel af in die Middeleeue en die gevoel daarvan is ook geïnspireer deur flieks soos Robin Hood en The Village. Hierdie tema is gekies omdat vuur en lig in daardie tyd ’n groot rol in oorlewing gespeel het. “Vroeg in die verhaal, word drie karakters aan die gehoor voorgestel. Vrees (Eben Groenewald) as ’n persoon uit die donker en twee ligdraers – een met ’n fakkel (Jouba) wat mense op sy pad help en die ander (Anique) Die Bewaker van ’n lamp en die lig wat hoop, veiligheid en waarheid simboliseer. Vrees beweeg in die woud en tussen die inwoners van die dorpie om hulle te verskrik en sodoende te beheer, maar hy is doelgerig op pad na Die Bewaker van die lamp. Die Ligdraer met die fakkel beweeg ook tussen die mense, maar bring hoop en verleen hulp aan almal – hy gee ook sy flint vir ’n oom (gespeel deur Jouba se pa Tienie Jordaan) waar hy hulle help om ’n rivier oor te steek. Dan raak Die Ligdraer met die fakkel bewus van Vrees se teenwoordigheid en besef waarheen hy op pad is. Vrees probeer Die Bewaker van die lamp intimideer, maar sy weet die lig wat sy het is sterker as hy. Die Ligdraer kom op die toneel af en onthou dat hy nie meer flint het om sy fakkel aan te steek nie. Die Bewaker van die lamp gooi haar lamp vir hom, waarmee hy sy fakkel aansteek en Vrees finaal verjaag,” verduidelik die groep verder.

Volgens die groep, was die lekkerste deel van die verfilmingsproses dat vriende en familie kon deel wees van die produksie en om die Middeleeuse kostuums uit te soek. Natuurlik was die opname nie sonder onvoorsiene krisisse, soos ongure weerstoestande en ’n paar senuweeagtige rolspelers nie, maar alles het mooi uitgewerk en die duo is dankbaar vir almal se hulp. “Swellendam is Jouba se tuisdorp en daar was oorgenoeg vriende en familie om as ekstras te dien. Anique se graad sewe Wiskundeonderwyser het haar lampie gebou, Jouba het self sy fakkel gemaak en sy ma het baie van die ekstras se klere asook sy uitrusting gemaak,” verklap hulle. Te danke aan dié spanpoging, het die eindresultaat perfek uitgekom en sal die video luisteraars weer van vooraf laat verlief raak op die groep se besonderse talent.

Net soos wat die pragtige kleure en vorms van ’n Kaleidoskoop ’n baie spesiale bekoring inhou, net so het hierdie talentvolle akoestiese musiekgroep – met dieselfde naam – dit reggekry om die afgelope twaalf jaar die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower. Hulle is ook deel van die MUSIEK SOOS GROND kunstenaars wat deur unieke en betowerende musiekkonserte beloof om die mees aangrypende musiek en van die beste talent in Suid-Afrika ten toon te stel!

Saam met hulle vriende Joshua na die Reën, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds gaan hulle die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.

Die eerste MUSIEK SOOS GROND konsert vind reeds hierdie naweek plaas by Villa Avianto (Bloemfontein) op 27 April en die tweede konsert vind plaas op die 4de Mei in Pretoria by he Big Red Barn.

KONSERTDATUMS
27 April 2019 – Villa Avianto, Bloemfontein
4 Mei 2019 – The Big Red Barn, Pretoria

Deure open om 17:00 en sluit weer om 22:00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier.

Kaartjies sal beskikbaar wees by www.musieksoosgrond.co.za en sal wissel tussen R200 en R250 per persoon.

FAKKELS is geneem vanaf hulle album, Gunsteling Seisoen, wat in Maart 2017 uitgereik is en in 2018 ’n Ghoema-musiektoekenning gewen het vir Beste Album Deur ’n Groep/ Duo. Hierdie album is ’n viering van die groep se suksesvolle dekade in die musiekbedryf en het verskeie treffers opgelewer op radiostasies regoor die land.

Leave a Reply