‘n Nuwe roman uit Stefan Enslin se pen oppad

0
7

Opsoek na Reënboë wys hoe die huwelik harde werk verg om gesond te bly en dat dit partykeer deur die swaarkry is wat ‘n huwelik sterker word.

Stefan Enslin
Stefan Enslin

Bekroonde Suid-Afrikaanse vervaardiger, roman- en draaiboekskrywer en stigter van die produksiemaatskappy, Faith in Motion Productions, Stefan Enslin het die aap uit die mou gelaat en verklap dat hy besig is om aan sy derde roman, Opsoek na Reënboë te skryf. Dié Vrystater wat studeer het aan die Noordwes Universiteit is baie opgewonde hieroor, maar wil nog nie te veel deel op die stadium nie. ‘n Datum vir uitreiking is nog nie bekend nie.

- Advertisement -

Dit handel oor ‘n getroude paartjie wat, in ‘n poging om hulle huwelik te red, na ‘n afgeleë plaas trek waar hulle dit op eie stoom en krag probeer doen, maar dit vererger net hulle situasie. Opsoek na Reënboë wys hoe die huwelik harde werk verg om gesond te bly en dat dit partykeer deur die swaarkry is wat ‘n huwelik sterker word. Op die ou einde is dit ‘n storie van hoop in ‘n tyd waar huwelike ‘n maklike teiken vir die vyand geword het.

“Om te skryf is vrek harde werk, baie eensaamheid, laat aande, opofferings en kritiek wat ‘n mens verduur om ‘n roman uit te gee. Maar ek weet dit is deel van die lewe. My eerste liefde is om stories te vertel en om te skryf. Stories van hoop wat met mense se harte praat. Opsoek na Reënboë is ‘n boek waaroor ek bitter opgewonde is en ek weet dat dit die lesers gaan inspireer”, sê Stefan.

Stefan werk al sedert 2011 in die vermaakbedryf en is veral bekend vir sy betrokkenheid by rolprente soos Klein Karoo (draaiboekredigeerder en konsultant-vervaardiger – 2013), Strikdas (mede-skrywer en vervaardiger – 2015), Verskietende Ster (draaiboekskrywer en vervaardiger – 2015), Nul Is Nie Niks Nie (vervaardiger – 2017) en Liewe Kersfeesvader (vervaardiger – 2017); die televisiereekse NoupadFM (2018) en Kern (skrywer en vervaardiger – 2019); asook internasionaal bekroonde kortfilms getiteld, The Love Bombs (uitvoerende vervaardiger – 2012). Dié veelsydige storieverteller is onlangs aangestel as vervaardigingshoof van die aanlyn digitale Christelike-televisiekanaal, RoepTV.com.

Verskietende Ster, sy eerste roman, waarop die rolprentweergawe gebaseer is, is in 2013 uitgegee en sy tweede roman, Tweede Kanse is in April 2018 deur Naledi uitgegee.

Leave a Reply