‘n Splinternuwe musiekvideo vir André Schwartz!

0
13
Andre Schwartz - Tweede Kans
Andre Schwartz – Tweede Kans

Die musiekvideo van André Schwartz se nuwe enkelsnit, TWEEDE KANS, is pas uitgereik en is besig om soos ’n veldbrand versprei.

“Ons het die video by Atlantic Studios (waar kykNET-programme, soos Suidooster en Tussen Ons, ook opgeneem word) in Kaapstad verfilm. Homebrew Films het dié projek vervaardig en beeldmateriaal van André se grootste hoogtepunte is uit die argiewe versamel en ingesluit in die eindprojek,” verklap Leo Smit, die uitvoerende vervaardiger van die sanger se nuutste album. “Die video self, het tien ure geneem om te verfilm en die opname is die dag nadat André klaar gemaak het met die Kaapse speelvlak van The Sound of Music.”

- Advertisement -

Die konsep agter hierdie meesterstuk was ’n spanpoging deur Leo en André en die inspirasie daarvoor het gekom toe hulle na ou foto’s gekyk het wat dié musieklegende onlangs opgespoor het uit sy jonger dae. Die idee daaragter, is om te reflekteer en te projekteer en half nostalgies terug te kyk na die dinge van die verlede en hoe dit jou na nuwe hoogtes dryf en jou lewenspad beïnvloed.

“Ons wou ’n video vervaardig wat saam met die lirieke ’n sterk boodskap kon oordra sonder om te letterlik te wees – en daardie boodskap is dat André uitsien na hierdie TWEEDE KANS saam met sy aanhangers,” sê Leo. Die musikante in die video moes regtig die akkoorde van die liedjie leer ter wille van geloofwaardigheid. “Die agtergrondbeligting wat gedurende die konsertdele van die video gebruik is, is ook spesiaal vir die video gebou,” .

TWEEDE KANS is vroeër vanjaar aan die publiek vrygestel en die reaksie was oorweldigend goed. Dit kry reeds gereelde speeltyd landswyd en pryk op die trefferparades van talle radiostasies. Dit is ook aanlyn beskikbaar op iTunes en Joox (kode: AndreSchwartz).

Koop dit hier:

Dié treffer kan beskryf word as ’n popsnit met ’n volwasse kontemporêre aanslag en vertel hoeveel dit vir jouself, en iemand anders, kan beteken wanneer jy bereid is om tweede kanse te gee. “Ek was mal oor die liedjie toe ek dit vir die eerste keer hoor. Die melodie is beeldskoon en die lirieke, wat Joe Foster geskryf het, vang empatie vas. Ons is so vinnig om mense uit ons lewe te sny. Deur vir enigiemand met wie jy al ’n pad gestap het nog ’n kans te gee, hetsy op ’n persoonlike of professionele vlak, kan vir albei partye ’n baie lonende ervaring wees,” verduidelik André. “Die snit het ’n lekker ritme, maar is beslis nie ‘bubble gum’ nie en is iets waarna jy regtig kan luister. Mense geniet integriteit en daar is ’n integrale integriteit hierin wat luisteraars van alle ouderdomme gaan intrek.”

Volgens die kunstenaar moet musiek ’n storie vertel en met luisteraars praat en hy meen dat sy nuutste vrystelling dit perfek regkry en ook simbolies is van sy planne om weer vir ’n slag sy eie vertonings te doen. “Ek het met TWEEDE KANS gesoek om balans te kry tussen musiek en liriek wat saam praat. Die hoofdoel is egter om weer te begin konserthou. Dis iets wat ek baie afgeskeep het, maar waaroor ek baie opgewonde is omdat ek soveel nuwe dinge het om met gehore te deel,” gesels hy. “Wanneer een deur toegaan, maak God ’n venster oop en ons moet dit raaksien en aangryp as ’n tweede kans,” voeg hy by.

André Schwartz is beslis een van die grootste en mees veelsydige supersterre wat die plaaslike vermaakbedryf nóg oor die afgelope paar dekades opgelewer het. Nie net slaan hy asems weg as bekroonde sanger, liedjieskrywer en verhoogkunstenaar nie, maar beïndruk ook as akteur (Sterlopers, 7de Laan) en televisieaanbieder. Die ster het op veertien sy televisiedebuut gemaak. Hy het klassieke musiekopleiding gehad en is net so gemaklik agter die klavier as agter die mikrofoon. Daar is veertien solo-albums op sy kerfstok, waarvan byna almal goue verkoopstatus bereik het en verskeie liedjies deur hom self geskryf is. Verder is hy bekend vir verskeie radiotreffers soos Ek wil jou nooit weer sien en Lief vir alles hier en het hy ’n manier om gehore vir ure lank te bekoor met sy aangrypende en sjarmante verhoogpersoonlikheid. As teaterster, het hy bekendheid verwerf vir kragtige hoofrolvertolkings in verskeie musiekblyspele soos Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, Jesus Christ Superstar, Pirates of Penzance en The Phantom of the Opera. Hy was ook onlangs te sien in die Suid-Afrikaanse produksie van The Sound Of Music.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Leave a Reply