NOMMER 37 beïndruk plaaslike rolprentkenners!

0
43

Nommer37 Poster“’n Goeie voorbeeld van hoe ’n puik film in Suid-Afrika vervaardig kan word! Dit is ’n aangrypende verhaal oor liefde, opoffering en wat jy sal doen om te oorleef, en sal jou op die punt van jou stoel hou – in afwagting op wat volgende gaan gebeur!” sê City Press se Andrea Johannes oor die plaaslike riller, NOMMER 37, wat vroeër in die maand aan Suid-Afrikaanse gehore vrygestel is en reeds ook opslae oorsee gemaak het.

Hierdie Hitchcock-styl rolprent, deur draaiboekskrywer en regisseur, Nosipho Dumisa, is baie positief ontvang deur plaaslike gehore, mediaplatforms en rolprentkenners en komplimente stroom reeds, sedert die amptelike vrystelling, onophoudelik uit verskeie oorde in. Channel 24 se Leandra Engelbrecht beskryf die fliek as ’n “opwindende avontuur met verskeie kinkels, verrassings en spanningsvolle oomblikke, en dit word bevestig deur Bruinou.com se Ryan Swano, wat sê: “Dit is rêrag ’n kwaai film. Dit maak nie saak hoeveel moontlike eind-scenarios jy probeer voorspel nie, want dit is propvol verrassende elemente en verwikkelinge.”

- Advertisement -

Hierdie Kaapstadse produksie, wat aan die wêreld bekendgestel is tydens die internasionale SXSW-rolprentfees in Texas, is ook gekies is om die land verder te gaan verteenwoordig by die agtiende jaarlikse Internasionale Neuchâtel Fantastic-Rolprentfees (NIFFF) in Switserland, vanaf 6 tot 14 Julie 2018. Daar is ook onlangs aangekondig dat Dark Star Pictures eksklusiewe regte bekom het om die fliek in Noord-Amerika te versprei. Die Noord-Amerikaanse vertonings sal in New York en Los Angeles begin, waarna dit ook vroegwinter op ’n DVD-op-aanvraag-basis vrygestel sal word. Reel Suspects het ook verspreidingsregte vir die rolprent in China, Duitsland, Oostenryk, Switserland en Japan bekom.

NOMMER 37 is gebaseer op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Die fliek speel af in ’n arm en gevaarlike Kaapse buurt. Dit vertel die verhaal van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon en Amrain Ismail-Essop is ook in die fliek te sien. Dit is vervaardig deur Bradley Joshua en Benjamin Overmeyer, van Gambit Films, saam met XYZ Films.

NOMMER 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en nie iets wat misgeloop moet word nie. “Jy swem deur die drek van misdaad, maar jy verstaan ook waar die mense vandaan kom en waarom hulle doen wat hulle doen,” meen fliekkenner, Leon van Nierop.

Die fliek is vervaardig deur Gambit Films in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik deur Filmfinity (Edms) Bpk versprei en is tans by bioskope te sien! NOMMER 37 bekleë tans die nommer nege posisie op die Top 10-rolprentloket.

PUBLIEK SE OPINIE

Geraldine Whiting: “Ek het dit Saterdag gaan kyk en ‘Epies’ is die woord waarmee ek dit beskryf! Regtig ’n fantastiese fliek…”

Annelien Nolte van Basten: “As jy van spannigsvolle misdaadrillers hou, gaan jy ver soek om beter te kry as hierdie een. Die produksie, regie, kamerawerk en draaiboek is uitstaande en die toneelspel en grimering outentiek en indrukwekkend. Dis regtig Oscar-standaard!”

NOMMER 37 WYS TANS BY DIE VOLGENDE BIOSKOPE

STER-KINEKOR
Bayside, Blue Route, Cape Gate, N1 City, Parow, Promenade Mall, Garden Route Mall, Somerset Mall, Tygervallei, V&A Waterfront Nouveau, Rosebank Nouveau, Secunda, en Southgate.

NU-METRO
Canal Walk en Mountain Mill in Worcester.

ONAFHANKLIKE BIOSKOPE
Epic Mall@Reds, Epic Northridge@Bloemfontein, Minimax Paarl, en Movies@Emnotweni.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/Nommer37Film/
Twitter: @Nommer37Film
Instagram: @nommer37film

Leave a Reply