Nuwe Rocco de Villiers album uitgereik!

0
11
New Rocco de Villiers - kortbroek, angkouse
New Rocco de Villiers – kortbroek, angkouse

Die bekroonde en uiters begaafde pianis, Rocco de Villiers, is terug met ’n splinternuwe popalbum, wat nie net vir die eerste keer spog met ’n Afrikaanse titel nie, maar ook beloof om luisteraars se voete na die dansvloer te lok.

kortbroek, langkouse is die musikant se veertiende instrumentale album en bou voort op die unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekendheid verwerf het. Die nuwe vrystelling spog met tien splinternuwe oorspronklike werke, uit sy eie pen, asook vier van sy gewildste treffers vanaf vorige albums, wat Kla 2 Kla 3 Kla 4, Anna Aeroplane, Roccobilly en Escape from the Ordinary Life (die temamusiek van RSG se weeklikse kunsprogram op Dinsdagaande) insluit. Die titelsnit van die album kan ook reeds op radiostasies landswyd gehoor word en ‘n musiekvideo word eersdaags bekendgestel!

- Advertisement -

Met titels soos Goeie Gevoel, Vanaand Kan Ek Dans, Reën Kan Jy Nie Koop Nie en Nooit Te Laat (om lief te hê), is dit duidelik dat dié nuwe album jou op ’n opwindende lewensreis gaan neem, wat musiekliefhebbers gaan laat vrolik voel, maar ook soms diep sal laat dink. “kortbroek, langkouse, wat deur Murray Lubbe van The Hit Factory vervaardig is, spreek belangrike kwessies aan soos die aanvaarding van die verlede, kultuur en taal. Dit praat oor selfaanvaarding, ’n groener planeet, menseregte en om altyd net jouself te wees, ten alle koste,” verklap die klaviermeester oor sy nuutste projek, wat beskryf word as sy eerlikste en persoonlikste werk tot op datum.

Oor die jare, is hierdie talentvolle musikant se werk bekroon met verskeie pryse, waaronder SAMA-, Huisgenoot Tempo-, Ghoema-, Vonk- en Cape Theatre-toekennings, en sy geestelike album, Beautiful Beautiful Hymns, wat in 2015 uitgereik is, het ook goue verkoopstatus bereik.

Buiten vir verskeie verhoogproduksies, kan Rocco ook met twee Mengeldrankie-boeke, ’n lewendige DVD-opname en ’n boek met klavierbladmusiek spog. Hy was ook betrokke by die klankbaan van die Amerikaanse fliek, Brewsie & Willie, het temamusiek geskryf vir nege televisiereekse, is die vervaardiger van twee televisiereekse en dokumentêre programme vir M-Net oor die geskiedenis van musiek en het sy lyf ook aanbieder gehou vir drie kykNET-programme, Kook en Klavier, Rocco en Klop die Klawers. Vanaf 28 Junie, is hy ook te sien op SABC 2 as gasaanbieder van die tweede reeks van die speletjiesprogram, Beter Assie Bure.

kortbroek, langkouse word op 13 Julie 2018 vrygestel en bewys net weereens hoekom hierdie sjarmante en talentvolle man van dag een af musiekharte kom verower het. Die moderne, emosiebelaaide manier waarop hy elke snit benader, is besonders en sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

Koop die album hier.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Leave a Reply