Nuwe SCHUSTER fliek oppad!

0
46

Suid-Afrika se gunsteling-komediant is terug op die grootskerm!

Themba Ntuli and Leon Schuster in Frank & Fearless.
Themba Ntuli and Leon Schuster in Frank & Fearless.

Hou vas aan jou sitplek want die grapjas, Leon Schuster, is terug met ’n splinternuwe goedvoel-komedie, met skreeusnaakse insidente en ’n inspirerende storielyn, wat kykers vasgenael sal hou van begin tot einde.

- Advertisement -

In ware Schuster-tradisie, volg FRANK & FEARLESS die wenresep van pittige komedie en humoristiese sosiale kommentaar waarvoor Leon se vorige werk, soos There’s a Zulu on my Stoep en Mr. Bones, bekendheid verwerf het. Saam met mede-skrywer en regisseur, Gray Hofmeyr, vat hy dit egter verder deur ’n baie relevante en kontroversiële storielyn in te werk, met ’n diep emosionele impak, wat dit kop-en-skouers laat uitstaan bo enige van dié ikoniese filmmaker se vorige werk.

“FRANK & FEARLESS was ’n baie moeilike fliek om te maak en die draaiboek deur my, Gray, en Geoff Newton, is oor ’n tydperk van vier jaar ontwikkel. Gray en ek het vir die eerste keer saamgewerk aan ‘Sweet and Short’ in 1991, en het sedertdien nege prente saam gemaak. Ons is ou Kamerade en die een sonder die ander, is soos vir ’n soldaat om oorlog toe te gaan sonder ’n geweer. Ons is vol vertroue dat ons nuutste projek al ons voriges gaan oortref en dat kinders en grootmense daardeur geraak sal word,” verduidelik Leon, wat verantwoordelik is vir van die land se grootste en mees suksesvolle flieks in die geskiedenis, plaaslik en oorsee.

Die fliek, wat in Afrika afspeel, neem jou op ’n opwindende avontuur wanneer ’n hartlike ou man, Sonny Frank (Leon Schuster), en ’n tienjarige plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), besluit om Suidoos-Asië se ambassadeur te ontvoer in ’n poging om die uitmoor van renosters stop te sit. Saam met hulle op hierdie missie, is twee viervoet-vriende, wat bydra tot die pret en hart van die verhaal. Reini is ’n babarenoster wie se ma deur stropers doodgemaak is en Dog is Fearless se lojale swart brak. Wanneer dinge egter erg skeefloop, word hulle gedwing om ’n peleton genadelose stropers aan te vat, waaronder die skrikwekkende eks-wildbewaarder, Dolf (Kenneth Nkosi), met wie Sonny ’n geskiedenis het. Die emosionele hart spruit, natuurlik, voort uit elke karakter se persoonlike reis.

“Dit was nogal ’n kontroversiële besluit om ’n komedie te laat afspeel teen so ’n tragiese agtergrond soos die huidige renosterkrisis. Ek glo egter dat komedie en tragedie mekaar kan komplementeer en kan bydra tot die emosionele impak van die verhaal en boodskap, mits die spel en storie 100% eerlik en opreg is,” sê draaiboekskrywer en regisseur, Gray Hofmeyr, wat al vir dekades lank in die bedryf werk en al verskeie toekennings vir sy werk gewen het.

Buiten vir uitstaande kinematografie en pragtige natuurtonele, sluit die rolprent ook indrukwekkende toneelspel in en spog dit met ’n sterbelaaide rolverdeling. Leon Schuster is puik in die rol van die onseker spoorwegsjef en versamelaar van inheemse speserye, terwyl nuweling, Themba Ntuli (Meerkat Maantuig), die perfekte keuse was om die komplekse Afrika-kind, wat bang is vir sy eie skaduwee, te vertolk. Kenneth Nkosi (Tsotsi), Khanyi Mbau (Happiness is a Four Letter Word), Jennifer Steyn (Goodbye Bafana, Madam and Eve) en David Dennis (Soul City) is ook in die fliek te sien.

FRANK & FEARLESS beloof om kykers te laat skaterlag, maar ook diep te raak met die ernstige onderliggende boodskap en persoonlike oorwinnings, wat sal aanklank vind by oud en jonk. Die film word plaaslik versprei deur Filmfinity (Pty) Ltd en sal op 23 November 2018 landswyd uitgereik word. Dit is vervaardig deur André Scholtz en Menzi Thabede in samewerking met M-Net, Chrome Films, Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC).

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Leave a Reply