Sandra Prinsloo, keer terug in Kamphoer – die verhaal Susan Nell by die Baxter

0
16

Sandra Prinsloo in Kamphoer – die verhaal van Susan Nell, Baxter Golden Arrow Studio, 9 to 26 Oktober.

Sandra Prinsloo in Kamphoer. Pic by Eye Poetry Photography
Sandra Prinsloo in Kamphoer. Pic by Eye Poetry Photography

Die liefling van Suid-Afrikaanse teater, televisie en film, Sandra Prinsloo, keer terug na die Baxter Golden Arrow Studio vanaf 9 tot 26 Oktober, in nog ‘n treffer-produksie, Kamphoer – die verhaal van Susan Nell, met regie deur die internasionaal-gerekende Lara Foot.

- Advertisement -

Die drama is geskoei op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksie-publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman. Dit is verwerk vir die verhoog deur Cecilia du Toit in samewerking met Sandra Prinsloo en Lara Foot. Met dié produksie maak Foot haar buiging in die professionele Afrikaanse teaterindustrie terwyl dit ook die eerste samewerking is tussen Foot (The Inconvenience of Wings, Tshepang, Karoo Moose) en Prinsloo (Die Naaimasjien, Oscar en die pienk tannie, Moedertaal), een van Suid-Afrika se mees geliefde en bekroonde aktrises.

Die kragtige drama het met groot welslae en lof van beide gehore en die media by die 2019 Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gedebuteer, met vyf ster-resensies en vol huise. Dit is aangewys as Beste Nasionale Teaterdebuut by die fees se Blinker-toekennings.

Die Volksblad en Netwerk24 gee dit vyf sterre. Beeld skryf, “Drie vroue dra uithaler van ’n produksie. Sandra Prinsloo speel dié rol met oorgawe.” Stronk, die fees se amptelike koerant, beskryf dit as “’n kragtige drama wat diep tref” en “Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.”

Francois Smith, skrywer van Kamphoer was ook vol lof vir die produksie: “Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.”

In die toneelstuk, gegrond op ‘n ongelooflike ware verhaal, vertolk Suid-Afrikaanse legende Prinsloo die uitdagende rol van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ‘n traumatiese belewenis moet deurmaak.

Na haar pa se dood tydens die oorlog, beland Susan en haar ma-hulle in die konsentrasiekamp waar sy deur twee Britse offisiere en ’n joiner wreedaardig verkrag en vir dood agtergelaat word. Sy oorleef die gruweldaad en bekwaam haarself as sielkundige in Nederland. Sy reis gedurende die Eerste Wêreldoorlog na ‘n psigiatriese hospital in Engeland waar haar paaie kruis met een van haar verkragters, waar hy as pasiënt aan bomskok lei. Met dié herontmoeting word Susan opnuut gekonfronteer met die die pyn en vernedering van haar verlede.

2019 is die 120ste gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog en die produksie bring hulde aan dié era. Die roman Kamphoer is onder meer benoem vir die Jan Rabie Rapport-toekenning, ‘n ATKV-toekenning en gekortlys vir die 2018 Sunday Times Literêre toekennings. Die produksie word moontlik gemaak deur die ondersteuning van KunsStig.

Aangebied deur die vervaardigers van die bekroonde Die reuk van appels en gemeet aan die oorweldigende reaksie wat die produksie tydens sy debuut ontvang het, beloof Kamphoer – die verhaal van Susan Nell om gehore regoor Suid-Afrika aan te gryp.

Dit het ‘n ouderdomsbeperking van 14.

Kamphoer – die verhaal Susan Nell speel by die Baxter Golden Arrow Studio vanaf 9 to 26 Oktober, om 8nm. Kaatjies vanaf R100 to R160 is beskikbaar by Webtickets of Pick n Pay winkels.

Leave a Reply