Sharoney steel harte met nuwe enkelsnit!

0
57
Sharoney - Crush
Sharoney – Crush

Suid-Afrika se gunsteling-borrelende blondekop, Sharoney, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat sommer diep in luisteraars, van alle ouderdomme, se harte gaan kruip.

“CRUSH is ’n tipiese hoërskoolmeisieliedjie. Elke meisie was al verlief, veral op skool. Soms bly hierdie spesifieke outjie jou ‘crush’ vir nog lank na matriek. Dit gee jou skoon vlinders in die maag as jy aan hom dink. Jy bloos as hy met jou praat en soms kan jy nie help om net te glimlag as jy sy naam sien nie,” vertel die sangeres oor hierdie snit uit die pen van Hugo Ludik en Kyle Grant. “Die liedjie het my onmiddellik getrek omdat ek self al ’n ‘crush’ gehad het op iemand toe ek jonger was. Dit beskryf so mooi hoe ek op daardie spesifieke tyd gevoel het, maar toe het ek nie die regte woord gehad om dit vas te vang nie.”

- Advertisement -

Dié lekkerluistertreffer bou voort op die ritmiese popmusiekstyl waarvoor die sangeres bekendheid verwerf het en nooi jou uit om spontaan saam te sing of ’n draai op die dansvloer te gaan maak. “Ek sal graag wil hê dat luisteraars dieselfde gevoelens moet beleef wat ek en die skrywsers van die liedjie gevoel het. Dat dit hulle so ’n bietjie terug in tyd sal neem en sag op die oor sal val,” sê sy. ’n Musiekvideo van die popliedjie word ook binnekort verfilm en Sharoney is sommer baie opgewonde om dit met die wêreld te deel. “Fathom Media gaan weereens betrokke wees by hierdie produksie wat by ’n hoërskool gaan afspeel. Ek was self verantwoordelik vir die konsep en het my eie ervaring as inspirasie gebruik. Dit vertel die storie van die gewilde ou in die skool, elke meisie se droomkêrel, en die gewone meisie wat maar net altyd daar is. Sy staar na die jongman en kan maar net dagdroom oor die toekoms. Hoe die toneel verder afspeel is dalk soos ’n feëverhaal. Sal die prinses haar prins kry? Ons sal maar moet wag en sien…,” verklap die kunstenaar opgewonde.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Web: www.sharoney.co.za

CRUSH is die derde vrystelling vanaf haar nuutste album, Skyn, wat in 2018 benoem is vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Popalbum Deur ’n Vroulike Kunstenaar. Die titelsnit is baie goed ontvang en het die nommer 1-posisie op Lekker FM se treffersparade beklee. Verder was dit ook verskeie weke onder die top 10 op Bosveldstereo se Afrikaanse Top 20, die kykNET Top 20 en VCR se Baanbrekers. Die musiekvideo kan steeds gereeld op die kassie gesien word.

Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan, al wat ’n treffersparade is, gekuier het.

Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd gekry oor die radio en ook op televisie. Die derde en vierde enkelsnitte, Fairytale en Wees My Held, het kort daarna gevolg en haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.


Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by die Dare To Care-liefdadigheidsinisiatief wat uitreik na mense en organisasies in nood. Die ster is ook besig om saam met een van haar borge, Katoenkind, te werk aan die ontwerp van haar eie Sharoney T-hemp en het pas aangekondig dat sy in 2019 deel gaan wees van die Bokboot-konsert. Haar weergawe van MercyMe se gospeltreffer, I Can Only Imagine, is onlangs uitgereik as deel van ’n uitdaging om hierdie internasionale fliek in Suid-Afrika te bemark en is baie goed ontvang.

CRUSH is die perfekte liedjie vir enige kuier of danspartytjie en sal beslis iets wees waarna meisies, wat met dieselfde gevoelens worstel, oor-en-oor gaan luister. Dit is Sharoney se sewende enkelsnitvrystelling en ’n pragtige getuigskrif van hoekom sy so ’n gewilde naam in die musiekbedryf is.

Leave a Reply