Viagogo verkoop bedrog kaartjies vir Buddy

0
58
Brendan Peyper as Buddy Holly
Brendan Peyper as Buddy Holly

Lefra Produksies, die Vervaardigers van die suksesvolle musiekblyspel, BUDDY – THE BUDDY HOLLY STORY wat tans by Emperors Palace se Theatre of Marcellus speel tot 10 Junie het so pas agtergekom dat die webtuiste, www.viagogo.co.za onwettige kaartjies aan die publiek verkoop. Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies sê dat SLEGS Computicket gemagtig is om kaartjies vir BUDDY te verkoop. Groepbesprekings kan ook by Computicket gedoen word of by Lefra Produksies se kantore self by 011 815 3000 of te epos aan admin@lefra.com

Dit het so pas aan die lig gekom dat die webtuiste www.viagogo.co.za kaartjies vir BUDDY ten duurste aan teatergangers verkoop. Mnr Hennie van Niekerk sê hy het 6 kaartjies op die webtuiste bespreek. “Ek is aanvanklik R707 op die Viagogo-webtuiste gekwoteer en toe het R4 196 van my kredietkaart afgegaan,” sê mnr Van Niekerk. “Dit is werklik ‘n klomp geld vir teaterkaartjies en ek was sommer baie boos toe Charl Senekal van Lefra Produksies vir my uitgewys het dat ek R150-kaartjies gekoop het teen ongeveer R700! Gelukkig het ons BUDDY baie geniet!”

- Advertisement -

Frans Swart sê dat Lefra agtergekom het iets is fout toe mnr Van Niekerk se kaartjies ‘n heel ander naam op die kaartjies gehad het. “Ons het toe agtergekom Viagogo het vir hom ons R150 kaartjies bespreek en hom R699.33 daarvoor aangeslaan. Dit is werklik belaglik om vir ‘n R150 kaartjie amper R700 te betaal. Hulle maak dus R550 onwettige wins per kaartjie. Dit is totaal onwettig om ‘n kaartjie te herverkoop. Die ironie van die saak is dat Lefra se duurste kaartjie vir BUDDY (deur Computicket) maar net R490 per kaartjie is, omdat ons dit so bekostigbaar as moontlik vir teatergangers probeer maak,” sê Swart.

Mnr Henk Dippenaar het ook in die slaggat getrap. “Ons het twee kaartjies bespreek en moes R2135 daarvoor opdok! Dus R1067,50 per kaartjie.” By nadere ondersoek van Lefra Produksies af het dit geblyk dat dit ook R150-kaartjies was wat vir R1067 gesmous is.

Swart het gesê dat die publiek glad nie BUDDY-kaartjies op www.viagogo.co.za moet koop nie. “Ons kaartjies wissel van R150, R250, R350, R450 tot R490. Ons het ook baie spesiale aanbiedinge soos afslag vir gesinne, groepe, pensioenarisse sowel as aandete met die produksie-kombinasie. Net Computicket is gemagtig om BUDDY-kaartjies te verkoop en die publiek moet werklik katvoet loop vir webtuistes soos www.viagogo.co.za,” sê Swart. Hy sê dat BUDDY tans baie goed doen by die loket. “Ek dink juis daarom het die ouens ons geïdentifiseer. Ons moes reeds twee ekstra vertonings skeduleer op Sondae om 11:00 om in die aanvraag vir ekstra kaartjies te voldoen. Dit maak ons egter woedend as mense sulke bedrog pleeg om ons kaartjies ten duurste te herverkoop.”

Lefra Produksies beveel enige teatergangers wat kaartjies by www.viagogo.co.za gekoop het aan om onmiddellik die transaksies by hulle Kredietkaartafdelings te stop en dit aan te gee as bedrogtransaksies en dan eerder kaartjies direk by Computicket te koop.

Die sanger, Ed Sheeran, is ook besig om die internasionale www.viagogo.com aan te vat nadat Viagogo kaartjies herverkoop het by sy konserte in Londen, Hampden en Mancehster. Dit nadat dit baie duidelik gemaak is dat niemand toegelaat sal word om Ed Sheeran-kaartjies te herverkoop nie.

BUDDY – THE BUDDY HOLLY STORY speel nog tot 10 Junie by Emperors Palace se Theatre of Marcellus. Daar is op Saterdae 15:00 en 20:00 vertonings en op Sondae om 11:00 en 15:00. Vertonings in die week is om 20:00. BUDDY – THE BUDDY HOLLY STORY spog met ‘n baie sterk rolverdeling. Superster Brendan Peyper, kan in die rol van Buddy gesien word. Veteraan omroeper en stemkunstenaar, Malcolm Gooding is in die rol van die Amerikaanse Omroeper, Hipockets Duncan, terwyl Mort Williams die rol van Ritchie Valens vertolk. Ander spelers is Ayanda Sibise, Andile Magxaki, Etienne du Plessis, Donae Brazer, Hugh Becker, Jaco Cilliers, Saranti Reeders en Simeon Hamman. Saranti Reeders is die Musikale Regisseur en Frans Swart het die regie behartig. Kaartjies vir BUDDY – THE BUDDY HOLLY STORY kan NET by Computicket bespreek word. Groepe meer as 10 teen afslag – skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 of besoek www.buddyholly.co.za

Leave a Reply