Wynand Strydom se nuwe album is Nr. 1 op iTunes!

0
36

Wynand Strydom se huldeblyk album, SKIELIK IS JY VRY, is Nr. 1 op die iTunes Top 10!

Wynand Strydom - Skielik Is Jy Vry
Wynand Strydom – Skielik Is Jy Vry

“Ek is my lewe lank al baie lief vir Koos du Plessis se musiek. Dit was nog altyd ’n droom om al my gunstelingliedjies op een album op te neem,” verklap die gewilde sanger, Wynand Strydom, oor die inspirasie agter sy agtste solo-album wat vandag vrygestel word en reeds die Nr. 1 posissie op die Itunes Top 10 ingeneem het!

- Advertisement -

SKIELIK IS JY VRY is ’n treffende huldeblyk aan een van die musiekbedryf se grootste legendes en pas die sanger se diep, hoendervleismooi basstem soos ’n handskoen. Die hele album bestaan uit snitte uit Koos du Plessis se pen, wat wissel tussen gewilde treffers en ander minder bekende liedjies. “Wanneer dit kom by Koos se musiek, is daar soveel pragtige liedjies en titels wat ek kon gebruik. My vrou, Chereé (die Country-sanger), het egter verlede jaar ’n musiekvideo opgeneem van een van my vorige opnames van Skielik Is Jy Vry. Die reaksie was oorweldigend en het so ’n impak op mense gehad dat dit maklik was om ’n titel te kies,” verduidelik hy.

Elkeen van die sestien liedjies is sorgvuldig deur dié veelsydige musikant verwerk, in samewerking met Adrew Roos, om ’n indrukwekkende eindresultaat te skep waarby almal sal aanklank vind. “Dit was van die begin af vir my belangrik dat mense weer opnuut na die lirieke van Koos du Plessis moes luister. Ek wou dus nie met die verwerkings enigsins luisteraars se aandag aftrek van die lirieke nie,” sê die kunstenaar. “Verder is ek besig om die album te omskep in ’n teaterstuk, want ek glo dat dit nodig is vir almal om Koos se musiek te ervaar. Om saam met mense te werk wat hom geken het, soos Laurika Rauch en Amanda Strydom, sal ook vir my ’n groot voorreg wees.”

Die musiekvideo vir GEBED is ook onlangs uitgereik. Die video is vervaardig deur De Wet Wright van DW Creative en is in die pragtige dorpie, Riebeeck Kasteel, in die Kaap geskiet.

Wynand, wat in Pretoria grootgeword het, meen dat hy eers nadat hy sy onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het regtig sy sangtalent ontdek het. Musiek is egter in sy gene, want daar is heelwat musikante in sy familie, soos Kupido, Alan Ladd, Karen Wessels en Koos van der Merwe. “Om my vrou, Chereé, te ontmoet was voorwaar een van die grootste hoogtepunt van my lewe. Dis lekker om my musiekreis met iemand te deel wat dit verstaan en sy is my grootste aanhanger, beste vriend en lewensmaat,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog. Hy en Chereé, wat twee pragtige kinders het, het reeds drie duet-albums saam opgeneem en ’n nuwe een word vir die nabye toekoms beplan.

Oor die afgelope vyftienjaar, het hy vir homself ’n stewige plek in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig en het hy al die verhoog met bekende name gedeel en by die grootste musiekfeeste opgetree. Die bedryf het hom geleer dat harde werk die enigste manier is om sukses te bereik en dat daar altyd nog iets is wat jy nog nie gedoen het nie en voor moet mik.

Die lewe en die draaie wat dit loop, is sy grootste inspirasie wanneer hy musiek skryf en hy het groot bewondering vir sangers soos Leonard Cohen, Johnny Cash en Kris Kristofferson.

As hy ’n ander beroep moes kies, sou hy graag ’n krieketkommentator wou wees, omdat hy nie net mal is oor dié sport nie maar self ook goed gespeel het toe hy jonger was.

Alhoewel Wynand nie ’n gunsteling wil uitsonder wanneer hy oor die liedjies op sy nuwe album praat nie, erken hy tog dat Gebed en Sprokie vir ’n Stadskind hom na aan die hart lê.

“Ek hoop dat SKIELIK IS JY VRY nie net aanhangers se harte sal raak oor die pragtige musiek en lirieke nie, maar ook vir my vertolking daarvan,” voeg hy by.

Volg hierdie skakel om die album aan te koop: https://umgafrica.lnk.to/SkielikIsJyVry

VOLG HOM OP SOSIALEMEDIA

Leave a Reply