Fiela se Kind by Emperors Palace

0
143
SHALEEN SURTIE-RICHARDS NA 30 JAAR TERUG IN DIE ROL VAN FIELA
SHALEEN SURTIE-RICHARDS NA 30 JAAR TERUG IN DIE ROL VAN FIELA

Shaleen Surtie-Richards na 30 jaar terug in die rol van Fiela.God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ´n kind aandoen nie. Die bruin vrou Fiela Komoetie het haar wit vondelingkind Benjamin met liefde en trots grootgemaak, tot die dag nege jaar later dat die sensusmanne hom kom haal het. “Hulle het hom net kom vat … sommer net so!” het Fiela Komoetie gesê. Aan die ander kant van die berg, in die Bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou Barta, wie se driejarige Lukas weggeraak het. Is Benjamin en Lukas dieselfde kind? Jare later is dit Benjamin/Lukas self wat worstel met die vraag: wie is ek? Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het nooit syne wees nie. Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, bly dit hom ontwyk.

Dalene Matthee se baie bekende Fiela se Kind toer vanjaar landwyd en besoek Emperors Palace in Gauteng vanaf 20 Junie tot 2 Julie 2017. Besprekings kan gedoen word deur Computicket te skakel by 0861 915 8000, of bespreek aanlyn www.computicket.com. Vir groepbesprekings en skoolbesprekings, skakel Lefra by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com. Die beplande speelvakke vir 2017 lyk soos volg:

- Advertisement -
  • Fiela se Kind - Benjamin
    Fiela se Kind – Benjamin

    5 tot 8 Julie 2017: Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, Nelspruit

  • 18 tot 22 Julie 2017: Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein
  • 21 tot 27 Augustus 2017: Baxterteater, Kaapstad
  • 28 Augustus tot 3 September 2017: Atterburyteater, Pretoria

Die produksie word aangebied met die trotse ondersteuning van Stuttaford van Lines, RSG en Sounds Good.

Suzanne van Wijk het Fiela se Kind vir die verhoog verwerk en Frans Swart hanteer die regie. Swart het die produksie reeds twee keer in die verlede aangebied in 1997 en 2007 en het hy en Dalene Matthee voor haar dood groot vriende geword. “Ons wil graag ook met hierdie produksie van Fiela se Kind hulde bring aan Dalene Matthee … een van Suid-Afrika se mees talentvolle skrywers. Tydens een van ons repetisies destyds, het Dalene vir my ‘n kopie van Fiela se Kind gebring – binne in was geskrywe: FIELA IS IN GOEIE HANDE! DALENE MATTHEE. Dit is nou weer tyd dat ons die wonderlike storie van Fiela se Kind op die verhoog ervaar,” sê Swart. “Ek en my span het van die staanspoor gesê ons wil nie enige vorige Fielas kopieër nie en daarom gaan hierdie produksie vars en nuut wees. Ek is baie opgewonde wat in die kreatiewe prosesse gebeur het. Teatergangers gaan beslis ‘n wonderlike nuwe produksie kan ervaar – en daar is natuurlik na 30 jaar ‘n nuwe generasie wat Fiela se Kind nog nooit op die verhoog gesien het nie.”

Fiela se Kind - Benjamin en Fiela
Fiela se Kind – Benjamin en Fiela

Swart sê verder dat hulle deur ‘n landwye soektog is vir veral ‘n jong Benjamin en jong Nina. “En nadat ons regoor die land meer as 300 kinders gesien het, het ons uiteindelik ons nuwe Benjamin (Vian Singleton van Meyerton) en Nina (Jaime du Toit van Vereeniging) gevind. Hierdie twee is ongelooflik talentvol en gaan beslis die baie belangrike rolle van die jong Nina en Benjamin volstaan. Ek is net so opgewonde oor Shaleen Surtie-Richards, die oorspronklike Fiela. En dan het ons twee wonderlike jong akteurs as die ouer Nina (Marissa Claasen) en die ouer Lukas (Phillru van Achterbergh.)”

Ons is net so opgewonde oor die res van die rolverdeling:

  • Elias van Rooyen (Bosman) – Paul Lückhoff
  • Barta van Rooyen (Bosvrou) – Edrien Erasmus
  • Selling Komoetie – Johny Klein
  • Die sensusmanne – Dirk Vermeulen en Nardus van der Vyver
  • Willem van Rooyen – Divan Prinsloo
  • Tollie Komoetie – Graigan Swartz
  • Emma Komoetie – Marilise van Wyk
Fiela se Kind - Benjamin en Fiela
Fiela se Kind – Benjamin en Fiela

Shaleen sê dis wonderlik om weer Fiela te speel. “Ai man … dertig jaar later en soveel ander rolle later. Toe gee Frans Swart, die regisseur, my weer die geleentheid om Fiela te speel. Weet jy, toe ek daai kopdoek opsit, toe kom alles weer terug. Toe is ek weer Fiela. En elke akteur kry mos een rol wat net vir hom of haar bedoel is. Fiela is my rol en dis ‘n eer vir my om weer te gaan delf in Dalene Matthee se uitstekende roman wat met soveel liefde geskryf is.”

Besprekings kan gedoen word deur Computicket te skakel by 0861 915 8000, of bespreek aanlyn www.computicket.com. Vir groepbesprekings en skoolbesprekings, skakel Lefra by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com.

 

Leave a Reply